Werner Wêreldklas


Werner Grüner

– Sané Erasmus

Werner in Kabul, Afghanistan

Werner Grüner in Kabul, Afghanistan; ©Werner Grüner

Werner Gruner is die stigter van die Starlight Global Foundation, ’n organisasie met die missie om mense te bemagtig deur in hul opvoeding, kultuur, leierskap en ekonomiese vryheid te belê. Hy is ook ’n privaatbankier met meer as 10 jaar se ervaring in Bankwese. Werner is in Suid-Afrika gebore en het ’n ywerige belangstelling in die ontwikkeling van derde wêreldse lande. Hy het op navorsingsreise gegaan na talle ontwikkelende lande soos Nigerië, Ethiopië, Kenia, en meer onlangs Afghanistan. Hy het al as gasspreker opgetree by konferensies in Suid-Afrika, Kenia, die VSA en Die Bahamas. Dit wat egter vir Werner so uitsonderlik maak, is dat hy ’n oud-leerder van Hoërskool Strand is. Terwyl ek rustig hierdie vragies uitgedink het, was hy besig om homself teen Orkaan Sandy te beveilig. Hy het gelukkig oorleef, en kan sy antwoorde met ons deel.

Wat is jou drie gunsteling dinge van die Bahamas en om daar te bly?

Kyk na flieks soos After the Sunset, Into the Blue en Casino Royale; vra vir mense soos Lenny Kravitz, Sean Connery of Shania Twain hoekom hulle graag hier bly; vra vir Sol Kerzner hoekom hy Atlantis hier op Paradise Island gebou het – dis ’n paradys hier.

As jy een ding van die Bahamas kon verander, wat sou dit wees?

Orkane soos Sandy wat maak dat jy jou huis se vensters toespyker. Tydens hierdie storms, gaan die krag af, die TV is morsdood en jy kan nie op Facebook gaan nie. Maar party ouens hou daarvan, omdat hulle nie hoef te gaan werk nie. Ek verkies die mooi weer.

Wat kan ons Suid-Afrikaners oor toerisme by die Bahamas leer?

Miskien hoe om Rum Cakes te maak. Ek is nie seker nie, maar ek sien al die toeriste koop dit hier.

In jou wêreldreise, kon jy later Suid-Afrikaanse toeriste op ’n myl uitken? Ons het sekerlik ’n paar tipiese gewoontetjies…

Ja, hulle ski met reënjasse.

Wat het jou geïnspireer om die Starlight Global Foundation te stig?

Ek glo daaraan om ten minste 10% van my inkomste weg te gee. In die begin was dit dalk R10, maar met die Stigting se hulp het ons die afgelope 3 maande omtrent R370 000 op welsynsorganisasies gespandeer. Die organisasie is net 3 maande oud.

Wat is sover jou grootste suksesverhaal in die proses om mense te bemagtig?

Ek dink nie daar is enige besondere verhaal wat uitstaan nie, maar ek kan onthou dat party ouens tydens die matriekafskeid vir my kom vertel het dat ek hulle op een of ander manier tydens ons skoolloopbaan geïnspeer het. Ek is nie seker hoekom hulle so lank moes wag om dit vir my te vertel nie. Of dalk was dit die wyn… Het hulle wyn tydens die matriekafskeid bedien? Ek kan nie onthou nie. [Ek twyfel? Haha. – Jeanine]

Waar in die wêreld het jy die meeste deernis en medemenslikheid ervaar?

In die Switserse Weermag en Afghanistan in 2010. Die twee is heeltemal onafhanklik van mekaar en het niks met mekaar te doen nie, maar omdat ek ook Switserse burgerskap het, moes ek na die weermag daar gaan. Ons moes destyds almal sporttoetse doen om te sien hoe fiks ons is. Toe hulle my vra waar ek verkies om in die army te dien, sê ek, “Iewers waar daar ‘action’ is”. Dit het gelyk asof hulle baie bly oor my antwoord was en het my toe na die winterberge infanterie-afdeling in die hart van die Alpe gestuur. Ek het lank vir daardie fout betaal, maar vandag weet ek ten minste hoe ’n mens ’n handgranaat gooi en hoe om my bed op te maak.

In 2010 het ek van die Bahamas na Afghanistan gevlieg en was vir ’n paar dae in Kabul en daardie omgewing waar ek onder andere my paspoort verloor het en sonder petrol in die nag in Kabul gaan staan het. Ek kan nie sê dat die twee situasies op daardie oomblik besondere euforiese geluksgevoelens veroorsaak het nie, maar ten minste het ek darem my paspoort weer terug gekry en die kar het “toevallig” naby ’n petrolstasie gaan staan.

In die weermag  word almal wat van verskillende agtergronde kom, deurmekaar bymekaar gegooi. ’n Mens leer hoe om jou medemens met respek te behandel, anders leer hulle dalk vír jou. In plekke soos Afghanistan kom jy agter dat die lewe selfs in ’n oorlogsone moet aangaan. Ek het veral groot respek gewen vir die vrouens daar wat probeer om ’n verskil te maak ten spyte van bedreigings op hul lewens – net omdat hulle vrouens is. As jy kan, gaan soek Women, War and Peace, ’n “mini-series” wat ’n vriendin van my aan gewerk het, op.

Watter nuwe projekte beplan jy tans saam met die Starlight Global Foundation?

’n Opelugkonsert by die Ocean Club hier op Paradise Island (waar hulle Casino Royale geskiet het) op 12-12-12. Ons beplan ook volgende jaar ’n Valentine’s Day konsert op Erinvale in Somerset-Wes asook ’n konsert later volgende jaar weer hier in die Bahamas.

Wat is jou gunsteling herinnering aan Hoërskool Strand?

Dalk die pom-poms… [“Daar was pom-poms?!” – Sané. “Ja, my dans juffrou, Landa, het hulle op ‘n tyd afgerig.” – Jeanine.]

Watter Hoërskool Strand stoutigheid wil jy aan ons lesers bieg? (Joune, natuurlik)

Ek stuur ’n Rum Cake vanaf die Bahamas direk aan die persoon wat dit uitvind.

Wat is jou beste raad om ’n mens se hoërskool-loopbaan te geniet?

Moenie stout wees nie, en as jy stout is, moenie dat hulle uitvind nie. Ek dink die meeste mense geniet outomaties hul hoërskool-loopbaan. Partykeer lyk dit vir my eerder asof mense ná skool raad kort oor hoe om hul lewens te geniet.

Wat sal jy nog vir die Suidooster-lesers wil vertel wat ek vergeet het om te vra?

As jy kan, gaan reis rondom die wêreld; vat ’n jaar of so af voordat jy besluit wat jy na skool wil doen; gaan besoek vreemde kulture en lande (nie net Londen nie); maar persoonlik, seker die heel belangrikste punt was altyd, is op die oomblik en sal altyd wees: My verhouding met die Here. Om te lewe en nie te weet vir wat nie, is verskriklik. In Biologie leer jy hoe jy hier uitgekom het, maar verstaan jy hoekom jy hier is? Wat is jou doel? Dit is die belangrikste vraag. Wanneer jy nie die doel verstaan nie, gaan jy jou lewe misbruik. ’n Reënjas is nie gemaak vir sneeu nie en ’n sneeupak is nie gemaak vir reën nie. Waarvoor is jy gemaak? Persoonlik glo ek net God kan hierdie vraag beantwoord.

Vir meer inligting, besoek http://www.WernerGruner.com

– SO

©Werner Gruner

Jou kommentaar...

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s