Godsdiensberig

~Lindi Joubert

Matthéüs 7:7

Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

Daar is tans ‘n groot tekort aan water in Suid-Afrika en dit beïnvloed ons almal. ‘n Klompie reëls is ook opgestel en een van die reëls is dat hulle jou as gesin sal beboet as jy oor ‘n sekere hoeveelheid liter water gebruik per maand. Dit is ‘n reuse kwessie om oor te stres, maar onthou die versie Matthéüs 7:7. As ons vir die Here vra om reën te bring en water te voorsien, mag dit gebeur, maar jy as persoon mag nie net terugsit en wag vir alles om te gebeur nie. Jy moet ook opoffer. Jy moet bid en dankie sê vir alles wat God reeds voorsien en jy moet bid vir dit wat nodig is. Ek glo dat as ons almal saamwerk en bid, sal God uithelp en voorsien.

Uitdaging vir die week:

Dink aan maniere wat jy kan water spaar en bid elke aand vir water. Bid ook vir die water wat ons reeds het en sê dankie dat dit nie reeds opgebruik is nie.

Advertisements

Godsdiens

~Lindi Joubert

Ps.23:6

“Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.”

Hierdie versie is deel van Psalms 23 wat ‘n verskriklike mooi versie is in die Bybel. Dit leer ons dat die Here ons altyd sal beskerm en ons Herder is en ons verskriklik baie lief het. Vers 6 leer ons dat ons ‘in lengte van dae’ in die Here se huis sal bly. Nou ek glo dat as jy alklaar jou hart vir die Here gegee het, woon jy reeds in Sy huis, maar daardie laaste sin van vers 6 verwys ook na die Hemel. Ons sal in lengte van dae in die Here se huis bly wat die Hemel is . Dit is iets om na uit te sien as jy vir my vra! Om so daaraan te dink… Jy sal elke liewe dag by die een wees wat jou heel eerste lief gehad het en wat jou beskerm. Dit klink soos ‘n fees !!!

Uitdaging vir die week:

Hierdie uitdaging is om elke aand te bid om dankie te sê dat Hy jou in Sy huis wil laat woon in lengte van dae.

Fillipense 4:13 – Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

-Lindi Joubert

Hierdie vers sê alles! Al het jy dit seker al ‘n miljoen keer gehoor, beteken dit nogsteeds so baie. Jy as tiener kry seker baie tye wat jy moedeloos en depressief is? Jy is moeg vir die lewe, want alles gaan net slegter en slegter. Jou vriende skinder dalk agter jou rug, seuns of meisies speel met jou gevoelens en jou ouers is ewe skielik orals in jou pad? Al hierdie dinge bou op, maar die een ding wat ons verkeerd doen, is ons vergeet hierdie vers. JY kan enigiets doen deur die krag wat Christus vir jou gee. God sal jou help deur al jou probleme en Hy SAL jou dra.

screenshot_2016-09-08-22-52-051

Akteurs skitter op die planke

-Nicky-Louise Byrne

Op Dinsdag 30 September, het ‘n groep Hoërskool Strand toneel-leerders, onder leiding van mev. Van Wyk, aan die ATKV-toneelfees in Durbanville, deelgeneem.

Die ATKV-toneelfees is ‘n enorme kompetisie waar ‘n verskeidenheid van skole, onder andere skole soos Paul Roos, Paarl Vallei, Hermanus, Stellenbosch en Bloemhof elke jaar deelneem en hul kulturele vaardighede tentoonstel.

Hoërskool Strand is elke jaar ‘n deelnemer aan hierdie kompetisie en het hierdie jaar weer weggeloop met ‘n handvol pryse naamlik: Dirk Lourens het ‘n brons verwerf vir beligting, Villiers Bosman het brons verwerf vir sy tegniese bydrae tot klank en Tino Viljoen en Suanelle Steyn het albei brons verwerf vir hul uitnemende spel op die verhoog. Juffrou van Wyk het ook ‘n brons verwerf vir die “kar” wat ontwerp en gebruik is in die toneelstuk. Die skrywer van die toneelstuk het ook ‘n brons verwerf.

Die toneelstuk is kontroversieel en die inhoud handel oor mense wat al elkeen iemand in hul lewe verloor het en dan ‘n groep stig, naamlik “Nabytaande vriende wat doodgegaan het”. Een van die groepslede reël toe dat hulle bymekaar kom om stories uit te ruil, maar hierdie betrokke groepslid gee voor dat hy al iemand aan die dood afgestaan het terwyl hy eintlik nog nooit iemand verloor het nie. Die seun wou net aan ‘n groep behoort en inpas.

Die vriende reël toe om mekaar by ‘n restaurant te ontmoet, maar die seun wat eintlik die bymekaarkom gereël het, is toe laat. Die ironie van die toneel is dat iemand die restaurant betree en al die seun se vriende doodskiet. Dit lei toe tot die einde waar hy wel iemand aan die dood afgestaan het.

Almal sê vir die seun dat hy gelukkig is dat hy laat opgedaag het vir hul kuier en dat hy gelukkig moet wees sy lewe is nog in sy hande, maar die feit van die saak is dat hy nou eensaam en alleen is.

Hoërskool Strand se toneel oefen lang ure en het ‘n groep talentvolle akteurs wat nie net hul kulturele vaardighede tentoonstel nie, maar ook deelneem aan vele ander verpligtinge.

 

Toekomstige popster skuil in Hoërskool Strand

-Francious Pheiffer

Lindi-Mari Charles, of  Lindi Erasmus soos ons haar ken, is tans besig om haar kinderdroom, asook talent, ten volle uit te leef. Op die ouderdom van twee jaar begin sy haar ouers se kuiergaste met sangitems vermaak en besef soos sy ouer word dit  haar roeping en die toekomstige leefwyse is, eerder as beroep, waarin sy haarself wil bevind. Vanjaar, 2016, is haar vyfde jaar as professionele sangeres. 2015 was vir Lindi-Mari ‘n belangrike jaar in haar sangloopbaan. Sy het ‘n skryfproses van drie maande begin om haar eie solo-album op te neem. Heinz Winkler, bekende sanger en Idols SA se eerste wenner, het Lindi-Mari bygestaan met die skryf van die liedjies op haar album. Hy het haar ook gehelp om hierdie album, Prinses, te vervaardig. ‘n verdere drie maande van komposisie het gevolg. Teen die einde van 2015 kon die opnames begin.

Alhoewel hierdie na ‘n langdurige proses klink, was dit net die begin. Na die opnames moes die album deur ‘n verskeidenheid vervaardigers gefinaliseer word. Die proses is afgesluit deur die registrering van die album, kopieregte op die liedjies en nog vele komplekse prosesse. Op die ou end duur die hele proses ongeveer ‘n jaar. “As alles goed, behoort die album teen die einde van Oktober op die rakke van verskeie musiekwinkels te wees.”

Tydens ‘n onderhoud met Lindi-Mari het sy ‘n paar interessante vrae beantwoord.

Wat is vir jou die belangrikste eienskap wat ‘n sanger/sangeres in die sangbedryf moet hê?

Beslis nederigheid. Sodra jy grootkop raak, verloor jy waaroor dit rêrig gaan om ‘n sanger of musikant te wees. Die mense wat jou ondersteun, hou nie daarvan as jy grootkop kry nie, en jy sal baie lojale aanhangers verloor as jy nie onthou waar jy vandaan kom nie.

 Dink jy talent oorskry harde werk of is albei ewe belangrik?

Na my mening is albei ewe belangrik. Vir jou talent om jou iewers te bring, verg dit harde werk wat daarmee saamkom. Die talent is ‘n geskenk van ons Hemelse Pappa en jy moet dit laat werk deur hard te werk.

 Wie is vir jou die belangrikste ondersteuningspilaar in dit wat jy doen?

My ma. Sy is op die oomblik my bestuurder, of soos ons haar noem, my momager. Sy reël al my optredes, bestuur my geld wat ek inkry en bemark my daagliks. Nie net is sy in beheer daarvan nie, maar sy en my pa ondersteun my droom al vandat ek klein was, en hulle het my gehelp tot waar ek vandag is.

 Wat was vir jou die lekkerste optrede tot dusver ?

Vanjaar se KKNK-opvoering. Dit was vir my ‘n groot oomblik om my kleintyddroom uit te leef terwyl ek skouers skuur met van Suid-Afrika se grootste kunstenaars en die mense na wie ek opkyk.

  Watter raad kan jy aan iemand gee wat van jongs af sukses wil behaal in die musiekbedryf?

Die musiekbedryf is een van die moeilikste bedrywe om in te wees. Die mense is vreeslik kompeterend, maar hou net moed en moet nie opgee op jou drome nie. Own every moment, want jy weet nooit wie in die gehoor vir jou sit en kyk nie!

 Ons gaan nog baie van Lindi-Mari Charles hoor, wat dalk nog eendag op Skouspel of Afrikaans is Groot se verhoog ‘n toekening vir haar merkwaardige talent gaan ontvang.

Gaan loer gerus op haar Facebookblad : @LindiMariCharles vir besprekings en opkomende vertonings.

 

 

Hoërskool Strand gee om!

-Lenette Kleyn

Een man se vullis, ‘n ander se skat!  Hierdie stelling is net soos talle ander kere, weer by Hoërskool Strand se jaarlikse klereverkoping bewys. Leerders kon die hele kwartaal lank klere, skoene en bykomstighede aan die Ti Amo-organisasie skenk, wat ‘n groot verkoping gehou het waar klere vir R10 ‘n stuk verhandel is. Die verkoping het Donderdagmiddag (19 Mei) na skool in die skoolsaal plaasgevind en die leerders, onderwysers en selfs ouers het soos vlieë gedrommel opsoek na ‘n winskopie. Baie van die klere is nog nooit eers gedra nie! Die geld wat ingesamel is, is aangewend om Ti Amo se uitreike te finansier.

Daar is ook op Vrydag 20 Mei ‘n geleentheid vir die leerders gegee om te wys hul gee om vir hul medeskoliere, want hul het die voorreg gehad om gewone klere aan te trek, in ruil vir ‘n blikkie onbederfbare kos bv. boontjies. Die dag  was ‘n reuse sukses as jy kyk na die meerderheid kinders wat geklee was in gewone klere asook na die talle blikkieskos wat na  juffrou Van der Merwe se klas aangedra is!

Vir die mense wat steeds nie weet wat Ti Amo is nie;  dit is ‘n organisasie by Hoërskool Strand, onder die leiding van mev. Sandra van Rensburg en me. Hannalie van der Merwe. Ti Amo se doel is om liefdadigheid in die gemeenskap te doen, asook binne die skool, want soos die spreekwoord lui : “ Charity begins at home” .

Matrieks geniet die drama Mis

Die datums 13 April tot 16 April is waarna almal, veral die matrieks van Hoërskool Strand, uitgesien het. Die  bekende drama – Mis is opgevoer. Die dramastuk is deur Reza de Wet geskryf en is ook tans die voorgeskrewe drama vir die matrieks van 2016.

Hoërskool Strand ©2016 Foto Geneem deur Francious Pheiffer
Hoërskool Strand ©2016
Foto Geneem deur Francious Pheiffer

Die wonder agter hierdie opvoering is die feit dat ‘n onafhanklike graad 11-leerder, Ansela Burger, die taak met albei hande aangepak het. Sy het besluit om hierdie drama in ‘n produksie te omskep vir haar jaarlikse Directors in die keusevak Drama, wat vir haar eindeksamen praktiese punt gebruik word. Sy het hierdie produksie aan die hele skool bekend gestel. Gedurende hierdie produksie, moes Ansela alles self aanpak. Dit sluit in stelbou, oudisies en afrigting van die akteurs. Dit het weke gevat om die produksie aanmekaar te sit, met alle administratiewe en beplanningsraamwerke. Die akteurs moes dwarsdeur die Maart-vakansie oefen, terwyl die meerderheid van die leerders die vakansie geniet het.

Voor elke optrede was ‘n strawwe en intensiewe opwarming, om te verseker dat elke akteur in sy karakter bly. Agter senuweeagtige glimlagte het daar wel tevredenheid in die harte van die akteurs gelê. Geen leerder of ander toeskouer, kan stry dat die akteurs briljant was nie. Improvisasie is gereeld toegepas, sonder dat enige iemand dit opgemerk het, behalwe die Afrikaanse-onderwysers wat die teks ken. Buiten die akteurs, was die stelbou, beligting en klank van top gehalte. Die kleredrag en grimering het ook die eienskappe van die karakters duidelik oorgedra.

Hoërskool Strand ©2016 Geneem deur Francious Pheiffer
Hoërskool Strand ©2016
Geneem deur Francious Pheiffer

Na vier volgepakte opvoerings kan daar beslis afgelei word dat Mis ‘n reuse sukses was. “ Alles kom nou tot ‘n einde na ‘n lang, emosionele en uitputtende week.  Julle het my hart geword – die lag, die geskree en die gehuil. Elke oomblik was ‘n belewenis wat ek vir niks sou verruil nie, elke uur van die 100 wat in hierdie produksie ingesit is. Dankie vir die journey.  Ek gaan julle MIS”, was ‘n hartroerende boodskap wat deur een van die akteurs, Leone van der Westhuizen, op sosiale media verskyn het na die laaste opvoering, Saterdagaand, 16 April.

Die drama Mis het dus geskiedenis gemaak in Hoërskool Strand.  Indien jy hierdie opvoering nie bygewoon het nie, het jý verseker iets geMIS.

 

 Hoërskool Strand ©2016 Geneem deur Francious Pheiffer
Hoërskool Strand ©2016
Geneem deur Francious Pheiffer